Egpaar by Platinum Square doodgeskiet
RUSTENBURG – Die polisie in Rustenburg het ‘n klopjag begin na die wrede moord op ‘n bejaarde paartjie in die parkeerterrein van Platinum Square winkelsentrum op Saterdagmiddag, 14 Junie 2025.
Voorlopige berigte dui daarop dat die paartjie, George (69) en Wilma (66) Koster omstreeks 13:40, noodlottig geskiet is nadat ‘n konfrontasie met die insittendes van ‘n wit Kia Rio sonder nommerplate ontstaan het – wat regs langs die egpaar se motor parkeer was. Paramedici wat na die toneel ontbied was het albei slagoffers op die dood verklaar. Die motief vir die voorval moet nog bepaal word.
Die waarnemende provinsiale kommissaris van Noordwes, generaal-majoor Patrick Asaneng, het gesê: “Hierdie sinnelose, onnodige geweld wat gelei het tot die wrede moord op die bejaarde paartjie in daglig, kan en moet nie ongestraf bly nie. Ek doen ‘n beroep op die oortreder(s) om na hul gewete te luister en hulself onmiddellik aan die polisie oor te gee voordat hulle opgespoor word.”
Volgens die polisie word die oortreder(s) as gewapen en gevaarlik beskou. Die polisie doen ‘n beroep op enigiemand met inligting wat die ondersoek kan help om luitenant-kolonel Mainganyo Nathaniël Phatsoane by 082 373 9571 of luitenant-kolonel Patrick Murunwa by 082 772 599 te kontak.