Kleuterskooljuffrou wat kleuter verkrag, vermoor se saak begin sloer

GAUTENG – Amber Lee Hughes (25), beskuldig van die verkragting en moord op die vierjarige Nada-Jane Challita in Mulbarton, het Donderdag oggend, 24 April, vlugtig in die Johannesburgse hooggeregshof verskyn.

Die voormalige kleuterskoolonderwyseres sou verlede week begin getuig het, maar kon weens ‘n abses in haar mond nie haar getuienis in die hof voortsit. Die saak is vir sewe dae uitgestel en Hughes sou na verwagting Donderdag met haar getuienis begin.

Hughes se regsverteenwoordiger het vir die hof Donderdag gesê dat Hughes wel die hospitaal besoek het, maar dat die dokter wat haar moes behandel het nie beskikbaar was nie.

Die abses het intussen vererger en sy gebruik tans pynmedikasie wat die konsultasies bemoeilik. Die hof het ook gehoor dat aangehoudenes ‘n dokter slegs op Woensdae kan besoek. Die saak is tot Mei maand uitgestel sodat Hughes mediese hulp kan ontvang.