Boer se vrou wat ‘plaasaanval’ beplan, met beweerde R50 miljoen versekerings uitbetaling in hof
ALIWAL-NOORD – Anelle de Bruin (46) het Woensdag in die landdroshof op Maletswai verskyn. Sy staan tereg op aanklag van sameswering om moord te pleeg deur haar man, Johan de Bruin (56), te laat vermoor.
Volgens die klagstaat teen haar wou Anelle vir Johan op die egpaar se plaas Rietpoort, naby die N6, sowat 30km buite Aliwal-Noord, laat vermoor vir ‘n beweerde R50 miljoen se versekerings uitbetaling in die geval van haar man se dood.
Volgens ondersoeke het de Bruin die die ‘aanval’ haarfyn beplan. Sy het ‘n huurmoordenaar, wat ‘n polisie-informant was, glo opdrag gegee om haar man te skiet, al die plaashonde dood te maak en die motor se bande te sny om die aanval meer oortuigend te laat lyk.
Devon Reid, staatsaanklaer, het vir die hof gesê dat die polisie se ondersoek nog nie afgehandel is nie. Daar is sekere gedeeltes van die selfoonrekords (boodskappe) wat glo nog nie bekom is nie. Hy het die hof die versekering gegee dat die res van die ondersoek in die saak goed vorder en net die selfoonverslae uitstaande is. Die saak teen Anelle de Bruin word in Junie maand weer hervat.