Polisie arresteer trio op aanklagte van moord en roof naby Xanadu
HARTBEESPOORTDAM – Ywerige ondersoeke deur die Brits en Hartbeespoortdam speurders en gemeenskapslede het gelei tot die inhegtenisneming van drie verdagtes tussen die ouderdomme van 22-37 jaar. Dit het gekom nadat die liggaam van ‘n 34-jarige man na bewering op Woensdag, 16 April 2025, laatmiddag dood in die bosse naby Xanadu Estate in Hartbeespoortdam gevind is.
Volgens inligting wat ontvang is, het ‘n manspersoon, 21 jaar oud, saam met sy oom van Xanadu-pad verbygeloop, toe hy ‘n dame (34) uit die bos gewaar het wat in ‘n taxi wou klim wat langs die pad naby die landgoed gestaan het. Hy het dié vrou herken as deel van ’n groep, wat hom na bewering die vorige week op Dinsdag 8 April 2025 beroof het.
Die 21-jarige het beweer dat hy met messe beroof is terwyl hy op pad was na ‘n nabygeleë kollege om sporttoerusting af te laai. Hy is na bewering van baie sokkerballe, sy bril en ‘n baadjie beroof. Sy voertuig, ‘n Volkswagen Polo, is later verlate in die nabygeleë bosse gevind.
Nadat hulle die vroue agtervolg het, het hulle ‘n buurman, wat vir ‘n plaaslike sekuriteitsmaatskappy werk, vir bystand ontbied, wat nadat hulle in die nabygeleë bosse gekyk het, die lyk van die 34-jarige man ontdek het, op dieselfde plek waar die slagoffer se motor na bewering die vorige week gevind is. Die polisie is omstreeks 20:00 die aand oor dié gru-ontdekking ingelig.
Verdere ondersoeke het die polisie na Brazaville-afdeling in Atteridgeville in Gauteng gelei, waar drie verdagtes (‘n vrou en twee mans) in hegtenis geneem is. Aanvanklike ondersoeke het aan die lig gebring dat die vrou, wat na bewering as ’n “dame van die nag” gewerk het, saam met die mans sou werk om potensiële kliënte te beroof.
Tydens die arrestasies het die polisie op talle selfone en ander items beslag gelê, insluitend die sporttoerusting wat van die 21-jarige beroof is. Die Trio, tussen 22 en 35 jaar oud, is in hegtenis geneem en van moord en roof aangekla. Hulle sal na verwagting Dinsdag, 22 April 2025 voor die Brits-landdroshof verskyn. Ondersoek na hierdie saak duur voort.
Die waarnemende provinsiale kommissaris, generaal-majoor Patrick Asaneng het die span toegejuig vir hul samewerking wat tot hierdie sukses gelei het. Hy het gemeenskapslede en sekuriteitsmaatskappye aangemoedig om voort te gaan om saam met die polisie te werk in die bekamping van misdaad.