Kleuterskooljuffrou wat kleuter verkrag, vermoor ontken skuld

GAUTENG – Amber Lee Hughes (25), wat daarvan aangekla word dat sy die vierjarige Nada-Jane Challita verkrag en vermoor het, het skuld ontken op twee aanklagte van verkragting en moord wat spruit uit gebeure wat op 23 Januarie 2023 plaasgevind het.

Die hof het gehoor dat die voorskoolse onderwyser na bewering ‘n romantiese verhouding met die oorledene se pa ontwikkel het. Sy het by hulle ingetrek en tydens haar verblyf is hul verhouding gekenmerk deur gereelde onderonsies. Hughes het na bewering gedreig om die kind tydens hul geskille seer te maak.

Die pa, Ellie Challita, het op die dag van die voorval na Polokwane in Limpopo gegaan om huise te soek met die doel om saam met sy dogter te verhuis nadat hy ‘n werk in dié provinsie aangebied is.

Toe die pa die meisie in die sorg van Hughes gelaat het, het die twee deur middel van teksboodskappe baklei en dit is toe dat Hughes glo ‘n boodskap gestuur het waarin sy gedreig het om Nada-Jane te vermoor.

Die beskuldigde het na bewering die oorledene verkrag deur ‘n onbekende voorwerp in haar privaat dele in te steek, daar word ook beweer dat sy die meisie verdrink het en albei haar polse gesny het. Die 4-jarige se lewelose liggaam is later gevind waar sy in die bad gedryf het. Die verhoor duur voort.