Vloedwaarskuwings terwyl water uit Vaaldam stort
• Inwoners in laagliggende gebiede word aangemoedig om te trek.
GAUTENG – Mense wat langs die oewer van die Vaalrivier en in die vloedvlakte woon, is aangeraai om te trek aangesien water uit die Vaaldam in die rivier vrygelaat word.
Watervlakke in die Vaaldam het van sowat 107% verlede week tot 114% op 9 April gestyg en die owerhede het vyf sluise oopgemaak.
Sowat 800 000 liter water per sekonde is in die rivier vrygelaat om druk op die dam te verlig. Die departement van water en sanitasie het gewaarsku dat dit oorstromings in laerliggende gebiede stroomaf kan veroorsaak.
Verder stroomaf het watervlakke in die Bloemhofdam wat deur die Vaal- en Vetrivier gevoed word ook skerp gestyg en water is ook uit daardie dam vrygelaat.
“Mense wat binne die hoë vloedlyn van die Vaalrivier stroomaf van die Vaaldam en die Bloemhofdam woon, moet ontruim en na ‘n veilige area beweeg, en waardevolle toerusting, verskuifbare infrastruktuur en vee verwyder,” het die departement van water en sanitasie in ‘n verklaring gesê.
Pemmy Majodina, minister van water en sanitasie, het Woensdag tydens ‘n besoek aan die Vaaldam gesê: “Ons pleit by mense om weg te beweeg van die laagliggende gebiede en ook moet mense nie die rivier vir godsdienstige rituele gebruik wanneer dit in vloed soos hierdie is nie.” – Deur Ihsaan Haffejee, GroundUp


