Samewerking tussen Polisie en Sekuriteit lei tot ontdekking van kapingsindikaat op plaas

POTCHEFSTROOM – Samewerking tussen Ventersdorp-polisie, Rustenburg K9-eenheid en ‘n sekuriteitsmaatskappy het die polisie op Vrydag, 28 Maart 2025 na ‘n plaas in Ventersdorp gelei, waar die polisie talle vragmotor sleepwaens, voertuigonderdele, swaardiens masjinerie, vurkhysers, seinjammers en koperplate ontdek het wat vermoedelik gesteel is en na raming ter waarde van R10 miljoen is.

Aanvanklike polisie-ondersoeke het aangedui dat ‘n vragmotor, gelaai met R6 miljoen se koperplate, na bewering enkele dae voor dié ontdekking in Kwa-Zulu Natal in Escort gekaap is. Die vragmotor was op pad na die Durbanse hawe aangesien die koper geoormerk was om uitgevoer te word en deur die sekuriteitsmaatskappy gemonitor te word. Die troksleepwa was aan ‘n ander vragmotor gekoppel en die aanvanklike sleepwa wat ook gekaap is, is kort ná die kaping verlate langs die pad gevind.

Met die toeslaan op die plaas was van die koperplate reeds van die gekapte sleepwa afgelaai en in die proses om deur swaardiensmasjinerie in kleiner stukke gesny te word. Die polisie het tydens hul soektog op die plaas nog vyf sleepwaens ontdek wat in Alberton, Vosloorus en Soweto in Gauteng gekaap is.

Vier verdagtes, almal mans tussen die ouderdomme van 20 en 50, is in hegtenis geneem. Hulle sal in die Ventersdorp-landdroshof verskyn vir die besit van vermoedelik gesteelde eiendom. Die saak sal deur die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek (DPCI) ondersoek word. Die moontlikheid om nog sake teen die beskuldigde op te spoor, kan nie uitgesluit word nie.

Die waarnemende provinsiale polisiekommissaris, generaal-majoor Patrick Asaneng het die samewerking tussen die polisie en die sekuriteitsmaatskappy geloof wat tot die sukses gelei het. Hy het beklemtoon dat die polisie nie misdaad kan oplos sonder die aktiewe deelname van lede van die gemeenskap, wat die oë en ore van die polisie is, in die bekamping van misdaad nie.