Gewonde boer jaag na veiligheid terwyl huis afbrand

GAUTENG – ‘n Boer van die Glenharvie-omgewing sterk tans in die Helen Joseph-hospitaal in Johannesburg aan na hy op 16 Maart om 01h00 aangeval was op sy plaas waar hy alleen woon.

Volgens Jaco Taute, die voorsitter van die Rooivleis Produsente Organisasie en die lid van die Gauteng TLU se sentrale komitee verantwoordelik vir veiligheid, het sy buurman, Adriaan Vos, hom Sondag oggend omstreeks 01:00 gebel.

Vos, wat op die plaas Elandfontein sowat twee kilometer buite Glenharvie boer, het wakker geword van sy honde wat blaf en het op sy balkon gaan staan om uit te kyk toe die aanvallers hom in die been geskiet het. Hy kon gelukkig tot by sy bakkie kom om na die Tautes te ry. Die aanvallers het egter verder op hom geskiet terwyl hy in die bakkie by sy hek was.

Die rowers het Vos se houthuis aan die brand gesteek terwyl hy besig was om hulp vir sy skietwonde te ontvang. Die huis het heeltemal afgebrand en Vos se voëls is ook in die brand dood.

Taute, sowel as sy vrou en seun het Vos, wat ten minste drie keer in onder meer sy arm en been geskiet is, se wonde verbind en ‘n ambulans gekontak, wat hom omstreeks 03:00 kom haal het. Hy is eers na die Leratong Hospitaal geneem en van daar na die Helen Joseph hospitaal oorgeplaas.

Volgens Taute word boere in dié omgewing toenemend deur veediewe en rowers geteiken en maak die polisie nie vordering om hierdie misdade te keer nie. Hy raai boere aan om ekstra veiligheidsmaatreëls by hul plase in plek te kry en indien moontlik wettige vuurwapens aan te skaf.

Enige iemand wat met bakstene kan help om Adriaan Vos se huis te help herbou, kan Taute by 082 635 2424 skakel.