Polisie ontdek hidroponiese dagga-laboratorium en arresteer man en vrou

POTCHEFSTROOM – In ‘n poging om die handel in dwelms en onwettige verspreiding van ammunisie hok te slaan, is ‘n deursoeking en beslagleggingslasbrief op Vrydag, 7 Maart 2025 deur die Dwelmtaakspan, vergesel deur Potchefstroom Flying Squad, bekom en in werking gestel.

Die span het voortgegaan na ‘n geïdentifiseerde adres by ‘n kleinhoewe in Wilgeboom, Potchefstroom. Tydens die soektog het die span talle en verskillende rondtes ammunisie en ‘n hidroponiese dagga-laboratorium gevind, met dagga, daggaplante en daggasigarette met ‘n waarde wat nog vasgestel moet word. Ondersoek na die saak insluitend die verwerking van die misdaadtoneel deur ‘n Forensiese span is aan die gang.

Die man en vrou, onderskeidelik 38 en 36 jaar oud, sal Maandag, 10 Maart 2025 in die Potchefstroomse landdroshof verskyn vir die onwettige besit van ammunisie asook die kweek en handel in dagga.

Die waarnemende provinsiale polisiekommissaris, generaal-majoor Patrick Asaneng het die span gelukgewens met die sukses, wat volgens hom ‘n sterk boodskap sal uitstuur dat misdaad nie betaal nie. Hy het gesê die polisie sal voortgaan om hard te werk om dwelmsmousery te stuit en gemeenskappe van dwelms ontslae te raak.