BREAKING NEWS: Sonop: “Hoe Swaar Moet Ons Nog Kry?”

BRITS – Sonop, die gemeenskap naby Brits wat uit ongeveer 300 huishoudings, twee laerskole, ‘n outehuis en kinderhuis bestaan, sit meer as 100 dae sonder enige elektrisiteit. Volgens bronne is die kragtoevoer in Sonop in Oktober 2024 afgesny weens Eskom skuld van R11 miljoen.

Die gronde van die Sonop gemeenskap asook die nabygeleë nedersetting Khalanyoni behoort aan die Departement van Openbare Werke, dus is die Departement verantwoordelik vir die Eskom rekening en nie die Madibeng Munisipaliteit onder wie die Sonop gemeenskap val nie.

Inwoners van Sonop het na ‘n optog dit reg gekry dat die krag vir ‘n paar dae aangeskakel was voor dit weer af gegaan het na ‘n weerligstraal glo die substasie beskadig het. Eskom en die Departement was in ‘n twee stryd oor wie die herstelwerk moes doen op die substasie om weer kragtoevoer te herstel.

Die gemeenskap het ongeveer R1,500 ingesamel in Desember om die laste en kabels self te herstel met die toestemming van die Departement van Openbare Werke omdat hulle geen werkers gehad het wat oor die Kerstyd die werk kon doen.

Die kabels was wel herstel maar twee krag bokse het probleme gegee. Sonder die nodige elektrisiëns vanaf Eskom of die Departement, kon kragtoevoer na die gemeenskap nie herstel word nie en dus het Sonop en Khalanyoni ‘n donker Kerstyd ervaar.

Na die Kerstyd het die gemeenskap weer probeer om fondse intesamel om ‘n elektrisiën na die substasie te laat kom. Ongelukkig met die reën kon daar nie aan die krag gewerk word nie. Nie lank daarna is die substasie geplunder en kragkabels is gesteel, asook ‘n transformator. Om ‘n nuwe transformator te koop beloop die prys ongeveer R713,000 van kwotasies wat verkry is. Die vervaardiging van ‘n nuwe transformator vat glo tussen 10 en 14 weke.

Die gemeenskap van Sonop saam met die CPF lede is sedert die kragonderbrekings uitgeput omdat hulself die substasie moet oppas in die aande. Daar word in die nagte gesteel of afgebreek by die substasie, wat mense se lewens ingevaar stel wat die plek in die stik donker moet bewaar.

As gevolg van die krag probleme sukkel die gemeenskap met selfoon sein ook. Die selfoon torings word weekliks met nuwe batterye herlaai deur die netwerkoperateurs. Daar word kragopwekkers aan die torings gekoppel wat ongelukkig nie lank genoeg hou voordat die sein weer in die area verdwyn. Dit maak die situasie in die gemeenskap baie moeiliker, veral as daar hulp ontbied moet word vanaf die polisie of ambulansdienste.

Elke aand moet daar vuur gemaak word om kos gaar te maak en warm water te kry, met fondse wat die inwoners nie meer het om hout te koop. Ys moet gekoop word om klein pakkies vleis koud te hou voordat dit ook sleg word. Daar is berigte van mense in die gemeenskap wat ook siek word van die voedsel wat afgaan.

Daar is ook opgemerk vandat daar nie krag in die gebied is dat rou riool in die strate afloop, asook in die kanaal en op sekere areas ‘riool damme’ vorm, wat ‘n groot gesondheids risiko inhou vir die gemeenskap en die natuur lewe.

Die situasie in die gemeenskap maak dit ook baie swaar vir die pensioenarisse wat nie genoeg fondse het om alles te bekostig nie. Inwoners wat diabetes het en hul medikasie moet koud hou kan nie voorbly met al die uitgawes nie. Mense sukkel met suurstof masjiene wat nie kan werk sonder elektrisiteit nie. Die swaarky van oumense is ook nie ‘n mooi gesig by die Sonop ouetehuis nie.

• Wat is nou gedoen?

Kwotasies is ingegee by die Departement van Openbare Werke, maar daar is ‘n proses wat gevolg moet word van watter kwotasie gekies gaan word – dan moet daar kontrakteurs uitgaan na substasie en die skade wat aangerig is saam met kabels wat gesteel is, te ondersoek en dan herstel kostes te bepaal.

Tenders word dan ingehandig en dan word daar een gekies waarna daar dan eers ‘n kontrakteur aangestel word. Dan eers kan die aankope gedoen word – en indien daar nie ‘n transformator in voorraad is nie moet dit eers gemaak word – so dit blyk dat die Sonop gemeenskap nog ‘n geruime tyd in die donker gaan wees.