Gru-ongeluk tussen SUV en Taxi eis 14 lewens
MIDDELBURG – Die departement van vervoer in die Oos-Kaap het die dood van 14 mense bevestig ná ‘n kop aan kop botsing Maandag op die N9 tussen Graaff-Reinet en Middelburg. Departementele woordvoerder in die provinsie, Unathi Binqose sê ‘n SUV met ses insittendes het teen ‘n volgelaaide minibustaxi gebots wat van die Wes-Kaap na die Oos-Kaap gery het.
“Daar word beweer dat die Hyundai Creta van Middelburg na Graaff-Reinet onderweg was, terwyl die Quantum in die teenoorgestelde rigting na Middelburg op pad was toe hulle reg van voor gebots het. Veertien mense is op die toneel dood en ongelukkig kom ses van die SUV voertuig van dieselfde familie af,” het Binqose gesê.
“Dis nog ‘n kop-aan-kop botsing en die LUR vir vervoer doen voortdurend ‘n beroep op alle motoriste, om ekstra waaksaam te wees en geduldig met mekaar te wees om ons te help om ongelukke soos die te voorkom.”