Station 21 Fire & Rescue reageer op twee huisbrande in Schoemansville

HARTBEESPOORT – Station 21 het Maandag aand blitsvinnig gereageer op twee aparte huisbrande in Schoemansville, Hartbeespoort area. Die eerste voorval was ‘n struktuurbrand, wat vinnig deur die span bedwing en geblus is, wat verdere skade verhoed het. Die tweede brand was egter erger.

Met aankoms was die huis reeds ten volle in vlamme verswelg Ten spyte van die uitdagende omstandighede het ons brandbestryders vinnig opgetree om die brand onder beheer te bring en te verhoed dat dit na nabygeleë huise versprei.

Alhoewel die brand aansienlike skade aan die eiendom aangerig het, is geen beserings aangemeld nie, en is die situasie met die grootste professionaliteit en doeltreffendheid hanteer. Die oorsaak van die brand word ondersoek.