Moontlike meteoriet oor Francisbaai opgemerk
FRANCISBAAI – Sondagoggend het inwoners groot geskrik deur ‘n harde slag en ligte wat in die lug geflikker het. Luidens berigte is ’n helder meteoriet of “vallende ster” opgemerk wat Sondagoggend voor 09:00 in die wolke opgebreek het, en skynbaar iewers in die see naby St. Francisbaai in die Oos-Kaap neergestort het.
Zoë van der Merwe en haar vriende MC Ferreira en Stephen Sharp het Sondagoggend daarin geslaag om wat soos ‘n meteoriet in die Aarde se atmosfeer gelyk het, vas te vang op video terwyl hulle naby die strand was.
Lede van die publiek in dele van Theescombe, Humansdorp, Jeffreysbaai, Patensie, Steytlerville, Addo en selfs so ver as Sedgefield het beweer hulle het ‘n ontploffing gehoor en skudding ervaar.
Op hierdie stadium is dit onbekend waar die meteoriet in die see neergestort het, met een bootkaptein wat beweer het dat hy ‘n harde plons in die water naby die vaartuig gehoor en gesien het. Foto’s is ook op sosiale media gedeel van stukke van die meteoriet in Kirkwood maar moet bevestig word.