Een verdagte gevang na mislukte C.I.T roof

GAUTENG – Die polisie het Woensdag een verdagte in Tembisa gearresteer ná ‘n poging tot transitorooftog in die area. Die polisie in Gauteng sê ‘n onbekende aantal verdagtes het Woensdagoggend in ‘n transitovoertuig vasgery. Die gearresteerde verdagte is beseer nadat beide voertuie aan die brand geslaan het, tans is daar ‘n soektog aan die gang vir sy makkers wat gevlug het.

Die verdagtes het skote op veiligheidswagte afgevuur en een van hulle gewond. Die polisie het vinnig gereageer op die rooftog en die verdagtes het van die toneel gevlug sonder om enige kontant te neem. Kort na die voorval het polisiebeamptes van die SAPD en Ekurhuleni Metropolisie na die verdagtes gaan soek in die omgewing.

‘n Mercedes Benz wat vermoedelik tydens die pleging van ‘n misdaad gebruik is, is verlate in die strate van Tembisa gevind met ‘n geweer binne, en die tweede Mercedes Benz, wat vermoedelik ook gebruik is in die pleging van die poging tot kontanttransito roof, is binne een van die erwe in Tembisa gevind.” Die polisie het gesê een van die motors is glo in Bedfordview gekaap.