Vragmotor vol sigarette gevind op boer se plaas

ZEERUST – Die stryd teen onwettige ekonomiese aktiwiteite het nog ‘n sukses behaal toe ‘n verdagte met onwettige sigarette gearresteer is. ‘n Opvolg is gedoen op inligting wat Donderdagaand 27 Junie 2024 van ‘n oplettende boer ontvang is oor verdagte aktiwiteite op sy plaas in Zeerust, wat gelei het tot die arrestasie van ‘n 55-jarige man asook onwettige sigarette ter waarde van R1,5 miljoen is op beslag gelê.

Daar word beweer dat die polisie gereageer het op ‘n oproep van ‘n boer wat ‘n onbekende vragmotor op sy plaas gewaar het. Met aankoms het die polisie die vragmotor genader en ‘n man binne gevind. Met die deursoeking van die vragmotor is onwettige sigarette gevind en die man is in hegtenis geneem op die toneel.

Ondersoeke na die saak is aan die gang deur die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek (DPCI).

Dit is die tweede voorval waar daar onwettige sigarette gevind is by verdagtes binne die afgelope drie dae. In die eerste voorval het die polisie en die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) op onwettige sigarette met ‘n geraamde straatwaarde van R8 miljoen in Makgobistad beslag gelê.