R110 miljoen geëis na ontvoering van Brits-tieners
BRITS – Die Mohammed-tieners is Woensdag 6 Maart op pad na hul skool in Brits naby Hartbeespoort ontvoer. Die Mercedes-Benz waarin die tieners gery het, is deur die bestuurder van ’n Audi A3 gestamp, om dit te dwing om te stop.
Sewe verdagtes, naamlik: Humphrey Martin (48), Nathaniel Mokwena (41), Sendry Phage (58), Virgilo Hlongwane (33), Nkanyiso Hadebe (25), Boitumelo Bogatsu (44) en Thuloane Makume (47) staan tereg op twee aanklagte van ontvoering en twee van afpersing.
Een van die sewe beskuldigdes, Makume (47) is ’n polisiesersant wat saam met die Letlhabile-speurders gestasioneer was. Die agtste verdagte wat Dinsdag 9 April 2024 in hegtenis geneem is, is die eienaar (50) van die huis waarin die tieners aangehou is.
’n Losprys van R50 miljoen is vir die meisie en R60 miljoen vir die seun geëis. Dit is onbekend of die losprys deur die familie betaal is. Die tieners was Maandag, 25 Maart 2024, vrygelaat nadat hulle in ’n huis in Klipgat gevind is. Hulle is deur paramedici by die Klipgat-polisiekantoor ondersoek.
“Die saak is steeds sub judice, nie alle inligting sal nou bekend gemaak kan word nie.” – het Sabata Mokgwabone, polisiewoordvoerder gesê. Borgtog sal later die maand (Mei 2024) hervat word omdat nie al sewe se regsverteenwoordigers gereed was met hul hof verskyning. Die sewe verdagtes bly in aanhouding.
Intussen ondersoek die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) ’n saak van poging tot moord teen die Brits-polisiekantoor. Daar word beweer dat hulle ’n man aangerand, op hom geskiet en toegesluit het omdat die polisie gedink het die man was een van die ontvoerders van die saak wat ondersoek word.