Oud-Britsie sterf tragies in vliegtuig ramp

WINDHOEK – Vrydag middag, 3 Mei 2024, omstreeks 17h00 is ‘n Reims-Cessna F406 Caravan II, bedryf deur Westair Aviation Ltd, V5-ASB, vernietig toe dit in die Pioneers Park woongebied in Windhoek, Namibië, neergestort het.

Die twee vlieëniers en een vliegtuigwerktuigkundige is in die tragiese ongeluk oorlede. Voorlopige inligting dui daarop dat die vliegtuig “meganiese probleme” ondervind het en neergestort het tydens ‘n poging om na die lughawe terug te keer. Met die impak, het die vliegtuig in vlamme uitgebars en is die drie mense binne-in onherkenbaar verskroei, volgens die Namibiese Polisie. Drie motors het ook aan die brand geslaan en is onherstelbaar beskadig.

Westair Aviation het die name bekend gemaak van die drie mense in ‘n verklaring: “Dit is met diepe hartseer dat ons by Westair die tragiese ongeluk aanspreek wat op 3 Mei 2024 naby Eros-lughawe in Windhoek plaasgevind het. Tydens hierdie verskriklike voorval wat ‘n Westair nie-kommersiële vlug behels het, het ons drie geliefde lede van ons span verloor. Vrydag se gebeure het ons almal verwoes gelaat. Na behoorlike proses, kan die maatskappy nou in die openbaar met swaar harte die verlies van ons gewaardeerde spanlede en vriende bevestig:

Rozanne De Beer-Olivier (33 – vlieënier wat in 2017 by Westair aangesluit het), Ruan van Schalkwyk (24 – vlieënier wat aangesluit het by Westair in 2023) en Andre-Armand Lubbe (25 – Ingenieur wat in 2019 by Westair aangesluit het). Hierdie verskriklike gebeurtenis het ons almal by Westair diep en persoonlik geraak en ons deel ons innige meegevoel met almal wat deur hierdie tragiese verlies geraak is. Ons harte en innige simpatie gaan uit na die familie en geliefdes van Rozanne, Ruan en Armand. Hulle sal baie gemis word.”

Westair het ook waardering uitgespreek teenoor al die nooddienspersoneel wat dadelik op die voorval gereageer het, en beklemtoon dat hul toewyding en kundigheid in die bestuur van die toneel en die verskaffing van onmiddellike bystand van onskatbare waarde was.