Toeris dood na olifant voertuig in Zambië bestorm en omgooi
ZAMBIË – ‘n Video wat tans op sosiale media versprei word wys hoe ‘n olifantbul ‘n wildbesigtigingsvoertuig in Zambië bestorm, en die voertuig dan omgooi.
Die safari-operateur, Wilderness het via die ‘Wild Heart Wildlife Foundation’ in ‘n verklaring gesê dat ‘n 80-jarige Amerikaanse toeris in die voorval dood is nadat hulle die afgelope naweek op ‘n wildbesigtigingsrit in die Kafue Nasionale Park was.
In die video kan gesien word hoe die olifant vanaf ‘n redelike afstand begin om agter die voertuig aan te hardloop. Nadat die voertuig stilgehou het is dit deur die olifant omgegooi.
Die uitvoerende hoof van Wilderness, Keith Vincent sê die toeroperateur se wildbewaarders is baie goed opgelei, en het jare lange ervaring. “In die geval was die gebied van so aard dat die plantegroei dit vir die bewaarder moeilik gemaak het om vinnig genoeg weg te kom.”
Die Wild Heart Wildlife Foundation het ook gesê dat daar baie redes wat tot hierdie voorvalle kan lei, en dat mense se reaksies soms nie ‘n groot uitwerking het nie omdat wilde diere onvoorspelbaar is.