Man (61) skiet ma en dogter dood met jaggeweer
HARTBEESPOORT – ‘n 61-jarige man het Magdaleen Prinsloo (58) en haar dogter Ruzanne Wideman (31) Maandag by Prinsloo se huis in Kosmos met ‘n jaggeweer doodgeskiet. Volgens inligting het die skietery plaasgevind toe die gesin gaste by hul huis oor gehad het terwyl hulle buite by die swembad area was.
Hartbeespoort SAPD-woordvoerder, konstabel Ben Moabi, het gesê ‘n argument tussen die man en die twee vroue het omstreeks 14h00 Maandag middag uitgebreek. Die man het die huis binnegegaan en ‘n jaggeweer gaan haal en albei vroue dood geskiet.
Nooddienste is na die moord toneel ontbied waar albei vroue dood verklaar is met die skietwonde wat hulle opgedoen het. Die 61-jarige man is ná die voorval deur SAPD-lede in hegtenis geneem en sal Woensdag in die Brits-landdroshof verskyn op aanklag van dubbele moord. Ons innige simpatie aan die familie en vriende tydens die moeilike tyd.