Ons gaan nog lekker warm kry die week

SUID AFRIKA – Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het mense gewaarsku om hulle vir uiters warm temperature gedurende die eerste helfte van die week gereed te maak. Die sentrale dele van die land gaan sedert verlede week gebuk onder ‘n hittegolf, met die kwik wat op sommige plekke 40 grade Celsius bereik het.

Die hittegolf sou na verwagting die naweek tot ‘n einde kom. Maar die voorspeller Dipuo Tawana het gesê die versengende temperature sal voortduur.

“Die hittegolf in KZN het Saterdag geëindig. In Noor-Wes asook Gauteng verwag ons egter steeds dat die hittegolftoestande sal voortduur. Dinsdag sal daar ‘n daling in temperature wees. Sommige gebiede sal steeds warm wees, maar sal nie aan die hittegolftoestande voldoen nie.” sê Tawana.