BREAKING NEWS: Voormalige NW-Openbare werke hoof in hof vir ‘n tender van R470 miljoen
NOORD WES – Die landdroshof in Mahikeng het Donderdag borgtog van R50 000 aan die voormalige departementshoof by Openbare Werke in Noordwes toegestaan. Obakeng Mongale (52) word daarvan aangekla dat hy aan IIma Projects en Tsoga Developers ’n tender van meer as R470 miljoen toegeken het om die Brits-hospitaal in 2008 te bou.
Ondersoeke deur Serious Commercial Crime Investigation het aan die lig gebring dat die twee maatskappye die tender toegeken is sonder om aan vereistes te voldoen.
Henry Mamothame, NVG-woordvoerder, het gesê die onwettig aangestelde kontrakteurs kos die departement meer as R40 miljoen.
“In 2010 is Ilima Projects na bewering onder voorlopige likwidasie geplaas, wat gelei het tot die beëindiging van die kontrak. ’n Nuwe maatskappy is aangestel om die bou van die hospitaal te voltooi. Die departement het meer as R57 miljoen bestee toe die kontrak beëindig is.
“Die nuwe kontrakteur moes twee groot remediëringswerke ten bedrae van meer as R4 miljoen uitvoer, wat gelei het tot die verlenging van tyd en koste, wat verkwistende uitgawes was”.
Mamothame het gesê Mongale het homself Donderdagoggend aan die polisie oorgegee. Die saak is tot Januarie 2024 vir verdere ondersoek uitgestel.