Hoërskool Brits ‘MC=4’ – span behaal 3de plek

SANDTON – Die JSE Uitdaging het 50 jaar gelede ontstaan om finansiële geletterdheid onder skoolkinders te bevorder. Deelnemers se aandeleverhandelingsvaardighede word getoets deur deelname aan ‘n gesimuleerde virtuele verhandelingsprogram. Elke span kry ‘n denkbeeldige bedrag van R1 000 000 om in JSE – genoteerde maatskappye te belê. Die Prysuideling vir die JSE Uitdaging was hierdie jaar ‘n Glasgeleentheid omdat dit die 50ste herdenking was. Die Hoërskool Brits span – MC=4, met Mia Muller, Marietjie Vledder, Mischa Meyer en Charl Mostert is na die geleentheid genooi, waar die Top 5 posisies in elkeen van die vier kategorieë aangekondig is. Die leerders het Vrydagaand skouers geskuur met onder meer, Leila Fourie die HUB van die JSE, Ndavi Nokeri die huidige mej SA wat ‘n ambassadeur van die JSE is, en komediant Schalk Bezuidenhout. Schalk het Hoërskool Brits se naam by sy hele vertoning ingewerk, so ons gaan beslis nog lank onthou word! Met 29 000 deelnemers was Hoërskool Brits baie trots om ‘n derde plek te behaal. Om die leerders aan te moedig om verder te belê in die toekoms het hulle elkeen R3 000 gewen wat in ‘n andelerekening belê word sodat hulle dit van daar af kan laat groei. Die spanne het Vrydagaand in die Protea Marriot Balalaika Hotel oorgeslaap en die Hoërskool Brits het na ‘n heerlike buffet ontbyt Saterdagoggend die geleentheid gebruik om ook vinnig die Nelson Mandela Square te besoek. Hoërskool Brits het hierdie jaar vir die eerste keer aan die JSE Uitdaging deelgeneem, en ons hoop hierdie span se puik prestasie dien as motivering vir nog leerders om in die toekoms betrokke te raak!