Ma. dogter en skoonseun dood verwurg by dagsorgsentrum

BLOEMFONTEIN – Loraine Earle, Provinsiale polisiewoordvoerder, sê nadat die polisie op 29 Junie 2023 na ‘n misdaadtoneel ontbied is by ‘n dagsorgsentrum, is drie lyke wat gevind is geïdentifiseer as dié van Christo (36) en Janine Theron (35), en Betsie Kruger (65).
Earle het bygevoeg die polisie was tot laatmiddag op die misdaadtoneel om bewyse in te samel oor die moord. Voorlopige ondersoeke dui daarop dat die drie familielede vasgebind en verwurg is. Dit is onbekend hoeveel oortreders betrokke was. Die verdagte(s) het ‘n onbekende bedrag kontant, ‘n skootrekenaar en persoonlike items gevat.
Ouers van kinders wat die dagsorgsentrum bygewoon het, waar die moord plaasgevind het, het Kruger beskryf as iemand wat die beste was om kinders te versorg. Een van die ouers het gesê die 65-jarige vrou het onsettend baie vir die kinders omgegee. Sy het ‘n sterk band met die kinders en ‘n goeie verhouding met die ouers gehad.
Bekommernisse is gelig deur ouers wat nie weet watter stap om volgende te neem met die versorging van hul kinders nie. Die polisie versoek enigiemand met inligting wat kan lei tot die arrestasie van die verdagtes om kaptein Sebata Moseme by 082 526 2713 of kaptein David Ramasoala by 082 468 1624 te kontak.