VF Plus gryp in by Hartbeespoort rioolbesoedeling
HARTBEESPOORT – Die munisipale bestuurder van die ANC-beheerde Madibeng Local Municipality, Sello Maroga, het gister op aandrang van die VF Plus ʼn ter plaatse besoek aan Hartbeespoort gebring om die rioolstelsel in die dorp te inspekteer.
Die VFPlus Madibeng Dienslewering het verskeie probleemareas aan hom uitgewys waar onverwerkte riool by mangate uitborrel en direk in die Hartbeespoortdam invloei. Buiten die ooglopende gesondheidsgevare vir plaaslike inwoners, word die dam en omliggende omgewing besoedel. Die Hartbeespoortdam en die omliggende ekostelsel word reeds bedreig deur die invloei van besoedelde water vanuit Gauteng wat onder meer die hiasinteplaag op die dam veroorsaak.
Die negatiewe impak op die plaaslike toerismesektor is enorm. Toeriste begin die area vermy en veral toeristeaantreklikhede soos die bekende slang- en die voëlpark op die waterfront word geraak waar riool in die oopte by die dam instroom. Dít terwyl die toerismebedryf die ruggraat van die plaaslike ekonomie vorm.
Die Vryheidsfront Plus / Freedom Front Plus het daarop aangedring dat onmiddellike herstelwerk aan die rioolwerke gedoen word om die probleem op te los. Die party het aan hom uitgewys dat ʼn belangrike pomp byvoorbeeld reeds vir maande buite werking is en grootliks tot die rioolstorting bydra. Maroga het hierop onmiddellik gereël dat ʼn nuwe pomp geïnstalleer word en ʼn behoorlike inpeksie op die hele rioolstelsel gedoen word. Die rioollekke by die waterfront sal ook onmiddellike aandag kry.
Dit is onaanvaarbaar dat besoedelingsprobleme weens swak instandhouding deur die ANC-beheerde Madibeng-munisipaliteit eers rampafmetings moet aanneem voordat opgetree word. Die VF Plus sal die vordering met die herstelwerk monitor om te verseker dat die Madibeng-munisipaliteit sy beloftes gestand doen. – Gullaume Clouston VF+ Madibeng