Polisie vang kapers tydens patrollies

NYANGA – Die polisie wat in Nyanga ontplooi is om hoëdigtheidpatrollies te doen, het inligting ontvang dat ‘n wit Etios, wat in Mowbray gekaap is, moontlik deur drie onbekende mans na Nyanga gery is. Terwyl hulle hul pligte naby Gqolomastraat uitgevoer het, het hulle die motorvoertuig opgemerk wat by die beskrywing pas.
Die bestuurder van die motorvoertuig het van rigting verander met polisielede agterna. Die polisielede het die bestuurder gedwing om stil te hou en die verdagtes het in ander rigtings gevlug toe die kar tot stilstand kom. Die polisielede het agternagesit en twee verdagtes aangekeer. Hulle het die twee verdagtes in hegtenis geneem en aangehou op ‘n aanklag van die besit van ‘n gekaapte voertuig en wapens. Sodra hulle aangekla is, sal die twee na verwagting ‘n hofverskyning in die Athlone-landdroshof maak op die genoemde aanklag.