Hoërskool Brits fokus op alternatiewe krag

BRITS – Met die kragkrisis in die land, wat ons nie meer maklik die spreekwoordelike “lig in die tonnel” gaan sien nie, het die Hoërskool Brits besluit om meer op alternatiewe krag te fokus. ‘n Verskeidenheid van sonpanele, omkeerders, batterye en MPPT’s (Sonkrag-beheerders) gaan ondersoek word. Daar sal dan bepaal kan word watter sisteem geskik is vir huishoudelike gebruike. ‘n Volgende stap sal wees om navorsing en ontwikkel vir ons skool te doen.
Dis natuurlik nie om dowe neute dat ons die rigting inslaan nie, want reeds in Gr. 10 word alternatiewe kragbronne in die departement se kurrikulum behandel. Die Gr. 11’s het ook intussen ‘n praktiese taak ingehandig nadat hulle navorsing moes doen om ‘n huis of ‘n skool van sonkrag te voorsien. Hieronder spog die Gr. 11-leerders met items onder leiding van Mnr. Edwin Leemans (ons Gr 10-12 Elektriese fasiliteerder), met items. Vinnig is daar begin om ‘n 365 Watt sonpaneel aan ‘n 30A beheerder en ‘n 48 AH battery te koppel. Die gretige leerders het spoedig die waarde van sonkrag besef deur hierdie sisteem op ‘n veilige wyse te koppel. Volgende termyn beloof om vele interessanthede by dié skool op te lewer.